Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 20 NOVEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

VOORGESTELDE WYSIGINGS AAN DIE ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIEWET OP DIE SARL-WEB

JAARLIKSE HERDENKINGSDAGDIENS VANDAG

NOG ’n MYLPAAL VIR 500 kHz

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

VOORGESTELDE WYSIGINGS AAN DIE ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIEWET OP DIE SARL-WEB

Die Departement na Kommunikasie het die voorgestelde wysigings aan die Elektroniese Kommunikasiewet vir kommentaar gepubliseer. Die SARL bestudeer die voorstelle vir moontlike wysigings wat dalk amateurradio mag affekteer. ’n Kopie van die voorgestelde wysigings aan die EKW kan van www.sarl.org.za afgelaai word deur na Amateur Radio TODAY in die linkerhandse kolom te gaan. Die SARL-Raad rig ’n uitnodiging vir die indiening van kommentaar voor 26 November 2011 aan artoday@sarl.org.za.

JAARLIKSE HERDENKINGSDAGDIENS VANDAG

Die jaarlikse herdenkingsdagdiens sal vanoggend om 10:45 uitgesaai word as deel van die program Amateurradio VANDAG. Die diens sal in Afrikaans gelei word deur Ds Jan Kramer, ZS6JRK, van die Nederduits-Hervormde gemeente, Elsburg. Die diens kon weens ’n tegniese probleem nie verlede Sondag uitgesaai word nie.

Alle radioamateurs word versoek om vanoggend tussen 10:45 en 11:00 radiostilte te handhaaf ter herinnering aan almal wat hulle lewens in diens van hul onderskeie lande gelaat het.

ARISSat-1 MAG IN APRIL 2012 SY OMWENTELINGS BE-EINDIG

Volgens voorspellings deur Mineo Makita, JE9PEL, mag ARISSat-1 vroeg in April 2012 die Aarde se atmosfeer binnegaan. Die satelliet is op 8 Augustus uit die Internasionale Ruimtestasie gelanseer, dit volg ’n lae wentelbaan en verloor gedurig hoogte. Die tempo van hoogteverlies mag versnel word deur toenemende atmosferiese digtheid veroorsaak deur toenemende sonaktiwiteit. Met inagneming van hierdie faktor, suggereer van die voorspellings dat hertoetreding in die atmosfeer so vroeg as 1 Februarie kan wees.

ARISSat-1 bly heel aktief, dit stuur spraakboodskappe, digitale telemetrie en stadige aftas TV-beelde. Amateurs het ook kontakte deur ARISSat-1 se liniêre transponeerder geniet ten spyte daarvan dat sy UHF-antenna blykbaar gedurende (of voor) vrylating beskadig is. Verlede week het AMSAT-NA ’n kompetisie aangekondig om te sien wie die laaste grepies van telemetrie kan opneem voordat ARISSat-1 aan sy einde kom. Ten einde die GG of BPSK-telemetrie te dekodeer, moet gebruik gemaak word van ARISSATTLM of programmatuur vir Windows of Mac OS. Die GG-sein word op 145,915 MHz uitgesaai en die BPSK-sein verskyn op 145,920 MHz plus of minus Doppler.

NOG ’n MYLPAAL VIR 500 kHz

Voorbereidende studies vir WRC-agenda item 1.23 wat ten doel het die toekenning van ’n bandgedeelte iewers tussen 415 en 526,5 kHz aan die amateurdiens, het ’n mylpaal bereik met die goedkeuring van ’n Verslag oor Amateur Eksperimentele Bedrywighede in die voorgenoemde frekwensiebereik.

Werkgroep 1, die groep verantwoordelik vir amateurradioaangeleenthede het voortgegaan met die opdatering en hersiening van vrae en antwoorde, aanbevelings en verslae aangaande die amateurdienste. Die IARU gaan voort om leierskap te toon met die beplanning en in-diens-stelling van hierdie aktiwiteite.

PROBLEME NEEM OP 10 m TOE SOOS MBF STYG

In ’n onlangse uitgawe van die nuusbrief van die IARU se moniteringstelsel is gerapporteer dat die indringertoestand op 10 meter versleg soos die maksimum bruikbare frekwensie (MBF) in sonsiklus 24 toeneem.

In die verslag word genoem dat heelwat verkeer van die burgerbandtipe wat van AM, FM en ESB gebruik maak tussen 28 en 29,7 MHz in September en weer in Oktober gehoor is. Daar is vasgestel dat die primêre oorsprong van meeste van die onwettige seine Europa, Brasilië en die Verre-Ooste is. Die verslag noem verder dat die band steeds gevul is met baie taxi’s wat van FM gebruik maak.

In die verslag word ook genoem dat met die verbetering in die hoër HF-bande, ons moontlik binnekort wat genoem word “apocalypse” (is dit ‘openbaring’?) in die uitsluitlike 10 m amateurband kan waarneem. Die nuusbrief meld ook van steurings in die 24 m-band deur Codar Radar en baie BB-operateurs wat ook daar praat.

Rusland het verlede week ingestem om alles moontlik te doen ten einde onwettige taxi-operateurs uit die 10 m-band te verwyder, maar hoe suksesvol dit gaan wees sal nog gesien moet word.

LEDETAL KRUIP AL NADER AAN 1 500

Die ledetal van die SARL staan tans op 1 414, met nog ’n entjie om te gaan tot by 1 500. Indien u nognie u lidmaatskap hernu het nie, hernu asb. nou sodat u lidmaatskap herstel kan word en die voordele en Radio ZS te ontvang. Indien die volle lidmaatskapsgelde vir 2011/2012 betaal word, sal lidmaatskap ononderbroke voortgaan.

Indien u nie ’n lid is nie, is dit nie nou hoog tyd om aan te sluit en u stokperdjie wêreldwyd te ondersteun nie? In Januarie 2012 vergader die ITU in Genève vir WRK12. Die ITU maak goeie vordering met ’n toekenning in die 500 kHz band en hulle krag om amateurradio te ondersteun lê in die ledetalle van individuele ledeverenigings. Die SARL en OKOSA is in gesprek aangaande ’n toekenning in die 5 MHz band. Dit alles benodig die ondersteuning van elke radioamateur. Doen dit nou, sluit aan by die SARL en ondersteun jou stokperdjie.

KLUBAKTIWITEITE

Suid-Kaap Amateurradioklub.

Op Saterdag, 5 November 2011 het die SKARK. hulle AJV. te Wildernis gehou met 30 persone, lede en nie-lede, teenwoordig.
Die nuwe bestuur verkies vir 2012 is as volg:
Voorsitter: Jacques Vermeulen, ZS1WC
Vise-voorsitter: Casey Nootenboom, ZS1AAS
Sekretaresse/Tesourier: Bets Meyer, LV van ZS1M
Herhalers: Hans Potgieter, ZS6ALJ/ZS1ALJ
Addisionele lede: John Fletcher, ZS1ZR; Chris Meyer, ZS1M, en Chris Nortier ZS1FA

Baie dankie aan die uittredende komiteelede en sterkte aan die muwe komitee.

Na die vergadering is ’n gesellige Bring-en Braai geniet en die dag is met ’n groot kattebakverkoping afgesluit.

Die Wesrand Amateurradioklub

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 SAT op Saterdag 03 Desember 2011 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat daar heelwat sonvlekke is wat C-klas fakkels produseer. Daar is 'n skraal moontlikheid dat sonvlek 1 346 'n M-klas fakkel kan produseer. Verder is die son se oppervlakte oortrek met kleiner sonvlekke wat gunstige HF-toestande verseker.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 103, ietwat laer as verlede week se hoogtepunt vir hierdie siklus.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie TEP-openinge van tyd-tot-tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

20 November - SARL-velddagkompetisie.
26 November – Laaste dag vir indiening van kommentaar op die voorgestelde wysigings aan die Elektroniese Kommunikasiewet aan artoday@sarl.org.za.
27 November - GG-been van 80 m klubkompetisie.
27 November - Digitale kompetisie.
30 November - Laaste dag vir insending van logstate vir PEARS HF DX-ekspedisie.
03 Desember - Die Wesrand Amateurradioklub se snuffelmark om 12:00.
31 Januarie 2012 - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie 2012 - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003